Oorlog se vloek


 

 

 

 

 

 

 

 

 

‘War Curse’ by Amanuel Asrat, translated into Afrikaans by Danie Marais

Oorlog se vloek

Iets het gegrom
iets het gegalm
die vrede deurboor
weerklink
… vasgesit
waar twee broers aan mekaar verbygaan
waar twee broers ontmoet
waar twee broers een word
op die piazza van lewe en dood
in die golf tussen rampspoed en beskawing
in die vallei van angs en vrede
het iets gebars, geknal.
Terwyl twee akasia-bome na mekaar gespoeg het
het sorghum en gras mekaar afgemaai
met niemand om te oes nie op mekaar geteer
tot net ’n enkele saadjie oor was …
randvol trane
afgekap – gekerf
in sigself gesaai.
… geplant
in aarde wat nog moet wegstort
in daardie ononderskeibare ding,
stroom van bloed en water,
die saadjie …
bestook deur:
die vriesende son
stormagtige nimbuswolke kolkend
gryserige weerlig
verskroeiende reën …
glip dit deur ’n rommelveld van yster
beklim dit die gees van dood
dra dit sy steriele lewe
hier, het dit ’n lente aangegryp.
Die saadjie …
het op sy eie aangekom
uit die bloed en water wat nog moet vloei
wie s’n en na wie nog onbekend
sy voedingsare onidentifiseerbaar
toe dit daardie lente gekloof het
maar in daardie lente …
wanneer die saadjie na regs gekyk het
was hy ’n man, was dit ’n baard
wanneer dit na links gekyk het
was hy die aarde, was dit ’n saad
verward en verwilderd … het dit geëet uit die hand van verwondering
versoek … maar hensop was nie in sy aard nie
Aan wie moes dit trou sweer, waar wie bekruip?
Wie moes oorgehaal, wie gestenig word?
Maar daardie lente se vuilheid is sy onooglikheid
dit het geploeg met die snawel van ’n koeël
ontelbare lewens gemors
asem weggevee

dood met dood gemaai
gedors op die skouers van ons nageslag
uiteindelik die vrugte in wantroue gekneus.
Want die vrugte …
toe dag en nag versmelt
angs en kalmte vermeng
’n wêreld binne ’n wêreld
oorlog binne vrede
vertroue in die agterdeur van verraad
het dit gesink in verbystering.
Is dit nie verbysterend nie?

Die plaag van hierdie lente van oorlog
ná ’n moeder se trane vir haar kinders
die clan se trane vir sy tyd
die aarde se trane vir die aarde
wat gevloei en gevloei het soos ’n stroom
het die aarde gou nat en modderig geword
eiendom in die slik versink
almal vasgekeer … beroof
toe het die graaf en die pik verskyn
en die roukleed en die draagbaar opgeskiet
maar …
hoe vinnig word alles opgebruik en almal skarrel daarna
almal van ons honger daarna en besit dit

die lelikheid van hierdie ding, oorlog
wanneer sy lente ongewens opdaag
wanneer sy vernietigende eggo’s aan jou deur klop
dit is dan dat oorlog se vloek die ondergang brou
maar …
jy dien dit teen wil en dank
teësinnig hou jy dit geselskap
steeds, bid jy hard: Maak dit stil!

Amanuel Asrat (1999)
(Translated by Danie Marais from Tedros Abraham’s English translation of the original poem in Tigrinya in collaboration with David Shook)